11 021 fans
New releases from Riaan Benadé on Deezer
Most popular albums from Riaan Benadé
Find artists similar to Riaan Benadé
Playlists & music by Riaan Benadé
Listen to Riaan Benadé on Deezer
Daar is min dinge wat Afrikaanse mense so baie geniet soos ’n diep boerseun, met ’n rasperstem en kitaar in die hand. Wat nog te sê as dié boerseun liedjies kan skryf wat mense in vervoering het. Riaan Benadé is nie net een van hulle nie - maar voorwaar ook ’n vars briesie in die Afrikaanse musiekbedryf, wie se naam nog lank op mense se lippe gaan wees. Riaan het vinnig as liedjieskrywer in die musiekbedryf begin spore trap. Dié veelsydige kunstenaar is nie net skrywer vir van Coleske Artists se grootste sterre nie, maar ook vir homself met sy debuutalbum, Spontaan, wat teen einde Augustus vrygestel word. Musiekliefhebbers kan uitsien na twaalf liedjies vanuit Riaan se eie pen en drie heropnames wat jou stom gaan laat. Riaan se paaie het per toeval met dié van Coleske Artists gekruis waar hy vandag as liedjieskrywer én kunstenaar met ’n kontrak spog. Dit was nadat ’n gemeenskaplike kennis hulle aan mekaar voorgestel het en Arnold Coleske van sy musiek gehoor het, dat die koeël deur die kerk was en hy deel van dié gesogte familie geword het. Musiek was wel nog altyd deel van sy prentjie en veral met ’n Pa en Oom wat ook aanhangers regoor Suid-Afrika as die duo-groep Innes en Franna Benadé bekoor het, is dit nie verbasend dat Riaan ook in hul voetspore gevolg het nie. Sy eerste enkelsnit, Helpende Hande (2019), wat Solidariteit Helpende Hand hul eie gemaak het, was net ’n voorsmakie van musiek-sukses vir Riaan. Kort daarna het sy en Demi Lee Moore se vertolking van die geestelike snit, There Was Jesus (2020), digitale platforms getref en die terugvoer op Riaan se stem en persoonlikheid was oorweldigend. Dié snit is gedurende die koronavirus-pandemie vrygestel is en het bykans 700 000 kyke reeds van regoor die wêreld geniet. Riaan is in 1992 in Pretoria gebore, waarna hy op driejarige ouderdom die voorreg gehad het om op hul familieplaas in Nylstroom groot te word. Die Benadés is bekend op Nylstroom met Riaan se Ouma wat ook ’n geliefde musiekonderwysres by die hoërskool was. Met tuisonderrig en buitemuurse aktiwiteite saam met die skool se kinders het hy die beste van beide wêrelde geniet. Op vyftien het Riaan begin liedjies skryf en dié talent het in sy twinterjare vlam gevat. Na skool het hy musiek gaan studeer en dit is toe dat hy wéét wat hy met die res van sy lewe wil doen. “Ek wil doen waarvoor ek so ’n groot passie het - musiek - en elke dag mense daarmee inspireer,” het Riaan vertel. “Ek wil onthou word vir die musiek wat ek geskryf het,” As musiekstudent na skool het hy die kennis wat hy veral by sy klasmaats opgedoen het, geniet. “Ons land het so ongelooflike musiekkultuur en die talent is verstommend,” het hy vertel. Riaan het ligte musiek en jazz as hoofvakke gehad en alhoewel hy nie vandag jazz gebruik nie, het hy vertel dat om meer oor dié vermoëns te kon leer, hom beslis tot vandag toe bevoordeel. Sedert hy vir Coleske Artists begin werk het, het deure oopgegaan en geleenthede ingestroom. Op Riaan se lysie van hoogtepunte spog die Afrikaans is Groot Somerfees as sy eerste groot optrede nadat hy meestal gewoond was aan kleiner intiemer konserte. Vir hom was dit ongelooflik inspirerend om as kollega die verhoog te kan deel met onder meer Theuns Jordaan, Steve Hofmeyr en Dewald Wasserfall. Die eerste liedjie wat hy in sy nuwe posisie as liedjieskrywer by Coleske Artsist moes skryf was vir Bok van Blerk. Land en Strand was gebore en is ook as temaliedjie van Bok van Blerk se TV-program, met dieselfde titel, gebruik. Dié program was weekliks op Via uitgesaai. Daarna het Riaan ook twee vertolkings van countrytreffers opgeneem - Sound of a Million Dreams en Amarillo by Morning - wat ingesluit in op Country is Groot Volume 3. Die nuuste en grootste treffer uit sy pen is die nuwe snit, Monumentaal, wat deur Ruhan du Toit opgeneem is en die land aan die gons het. Hy het dié snit, wat ook die titelsnit van Ruhan se nuwe album is, saam met Gerhard Steyn en Paulo Azevedo geskryf. Sy solo-album het baie spontaan ontstaan en dus is die titel - Spontaan - nie net ’n titel van een van die snitte nie, maar ook ’n goeie beskrywing hoe dié album gebore is. Die eerste enkelsnit vanaf hierdie album is ’n liedjie getiteld Gooi Nog ’n Whiskey. Vir dié enkelsnit is ’n musiekvideo ook reeds verfilm waarin die tragiese liefdesverhaal van twee mense wat nie die geleentheid het om saam oud te word nie, afspeel. Dié video sal saam met die vrystelling van die album ook teen einde Augustus geniet kan word. Riaan is ’n mense-mens met ’n passie vir ander, die natuur en jag en kyk altyd wat hy vir die mense om hom kan doen. “Ek hoop dat behalwe as liedjieskrywer, word ek ook onthou as iemand wat altyd ander gehelp het.” As Riaan moet dink waar hy homself in 2040 sien is dit “beslis iewers by ’n braai, iewers in die natuur - of op sy wildsplaas - met ’n paar albums op die rak.” Intussen gaan hy skryf en sing, en orals waar hy gaan dié wat hom ontmoet, inspireer.